Aanhangsel C: Regering van Nasionale Eenheid: Provinsiale Sfeer

  1. Artikel 132 van die nuwe Grondwet word geag soos volg te lui:

    132. Uitvoerende Rade

    1. Die Uitvoerende Raad van ʼn provinsie bestaan uit die Premier en hoogstens tien lede ooreenkomstig hierdie artikel deur die Premieraangestel.
    2. ʼn Party wat minstens tien persent van die setels in ʼn provinsiale wetgewer het en wat besluit het om aan die regering van nasionale eenheid deel te neem, is geregtig op die toekenning aan hom van een of meer van die portefeuljes in die Uitvoerende Raad in verhouding tot die getal setels wat die party in die wetgewer het teenoor die getal setels wat die ander deelnemende partye het.
    3. Portefeuljes in die Uitvoerende Raad moet aan die onderskeie deelnemende partye toegeken word ooreenkomstig dieselfde formule as dié wat in artikel 91(9) uiteengesit word, en by die toepassing van daardie formule word ʼn verwysing in daardie artikel na–
      1. die Kabinet, as ʼn verwysing na ʼn Uitvoerende Raad uitgelê;
      2. ʼn Minister, as ʼn verwysing na ʼn lid van ʼn Uitvoerende Raad uitgelê; en
      3. die Nasionale Vergadering, as ʼn verwysing na die provinsiale wetgewer uitgelê.
    4. Die Premier van ʼn provinsie moet na oorleg met die leiers van die deelnemende partye–
      1. die spesifieke portefeuljes bepaal wat aan die onderskeie deelnemende partye toegeken moet word ooreenkomstig die getal portefeuljes wat ingevolge subartikel (3) aan hulle toegeken is;
      2. ten opsigte van elke sodanige portefeulje ʼn lid van die provinsiale wetgewer wat ʼn lid is van die party waaraan daardie portefeulje kragtens paragraaf (a) toegeken is, aanstel as die lid van die Uitvoerende Raad wat vir daardie portefeulje verantwoordelik is;
      3. indien dit vir die doeleindes van die Grondwet of in die belang van goeie regering nodig word, ʼn bepaling kragtens paragraaf (a) behoudens subartikel (3) wysig;
      4. ʼn aanstelling kragtens paragraaf (b) beëindig–
        1. indien die Premier daartoe versoek word deur die leier van die party waarvan die betrokke lid van die Uitvoerende Raad ʼn lid is; of
        2. indien dit vir die doeleindes van die Grondwet of in die belang van goeie regering nodig word; of
      5. wanneer nodig, behoudens paragraaf (b) ʼn vakature in die amp van ʼn lid van die Uitvoerende Raad vul.
    5. Subartikel (4) moet toegepas word in die gees beliggaam in die begrip van ʼn regering van nasionale eenheid, en die Premier en die ander betrokke funksionarisse moet by die toepassing van daardie subartikel poog om te alle tye konsensus te bereik: Met dien verstande dat indien konsensus nie bereik kan word nie oor–
      1. die uitoefening van ʼn bevoegdheid in paragraaf (a), (c) of (d)(ii) van daardie subartikel bedoel, die Premier se besluit die deurslag gee;
      2. die uitoefening van ʼn bevoegdheid in paragraaf (b), (d)(i) of (e) van daardie subartikel bedoel wat ʼn persoon raak wat nie ʼn lid van die Premier se party is nie, die besluit van die leier van die party waarvan daardie persoon ʼn lid is, die deurslag gee; en
      3. die uitoefening van ʼn bevoegdheid in paragraaf (b) of (e) van daardie subartikel bedoel wat ʼn persoon raak wat ʼn lid van die Premier se party is, die Premier se besluit die deurslag gee.
    6. Indien ʼn bepaling van portefeuljetoekennings kragtens subartikel (4)(c) gewysig word, ontruim die betrokke lede hul portefeuljes, maar kan hulle, waar toepaslik, weer aangestel word in ander portefeuljes wat ingevolge die gewysigde bepaling aan hulle onderskeie partye toegeken word.
    7. Die Premier van die provinsie moet op vergaderings van ʼn Uitvoerende Raad voorsit.
    8. ʼn Uitvoerende Raad moet funksioneer met inagneming van die konsensus- soekende gees wat in die begrip van ʼn regering van nasionale eenheid beliggaam is, asook van die behoefte aan doeltreffende regering.
  2. Artikel 136 van die nuwe Grondwet word geag die volgende bykomende subartikels te bevat:

    1. Lede van Uitvoerende Rade is afsonderlik teenoor die Premier en die provinsiale wetgewer aanspreeklik vir die administrasie van hulle portefeuljes, en al die lede van die Uitvoerende Raad is dienooreenkomstig gesamentlik aanspreeklik vir die verrigting van die werksaamhede van die provinsiale regering en vir die beleid daarvan.
    2. Lede van Uitvoerende Rade moet hulle portefeuljes administreer ooreenkomstig die beleid deur die Raad bepaal.
    3. Indien ʼn lid van ʼn Uitvoerende Raad versuim om die portefeulje ooreenkomstig die beleid van die Raad te administreer, kan die Premier die betrokke lid aansê om die administrasie van die portefeulje met daardie beleid in ooreenstemming te bring.
    4. Indien die betrokke lid versuim om aan ʼn aansegging van die Premier kragtens subartikel (5) te voldoen, kan die Premier die lid van sy of haar amp onthef na oorleg met die lid, en indien die lid nie ʼn lid van die Premier se party of nie die leier van ʼn deelnemende party is nie, ook na oorleg met die leier van daardie lid se party.