Artikel 84 van die nuwe Grondwet word geag die volgende bykomende subartikel te bevat:
- Die President moet die Uitvoerende Adjunkpresidente raadpleeg–
- in die ontwikkeling en uitvoering van die beleid van die nasionale regering;
- in alle aangeleenthede met betrekking tot die bestuur van die Kabinet en die verrigting van die werksaamhede van die Kabinet;
- in die toewysing van werksaamhede aan die Uitvoerende Adjunkpresidente;
- voordat die President enige aanstelling kragtens die Grondwet of enige wetgewing doen, met inbegrip van die aanstelling van ambassadeurs of ander diplomatieke verteenwoordigers;
- voordat die President kommissies van ondersoek aanstel;
- voordat die President ʼn referendum uitroep; en
- voordat die President oortreders begenadig of grasie aan hulle verleen.
Artikel 89 van die nuwe Grondwet word geag die volgende bykomende subartikel te bevat:
- Subartikels (1) en (2) is ook op ʼn Uitvoerende Adjunkpresident van toepassing.
Paragraaf (a) van artikel 90(1) van die nuwe Grondwet word geag soos volg te lui:
(a) ‘n Uitvoerende Adjunkpresident wat deur die President aangewys is;
Artikel 91 van die nuwe Grondwet word geag soos volg te lui:
91. Kabinet
- Die Kabinet bestaan uit die President, die Uitvoerende Adjunkpresidente en–
- hoogstens 27 Ministers wat lede van die Nasionale Vergadering is en wat ingevolge subartikels (8) tot (12) aangestel is; en
- hoogstens een Minister wat nie ʼn lid van die Nasionale Vergadering is nie en wat ingevolge subartikel (13) aangestel is, mits die President, handelende in oorleg met die Uitvoerende Adjunkpresidente en die leiers van die deelnemende partye, die aanstelling van so ʼn Minister dienstig ag.
- Elke party wat minstens 80 setels in die Nasionale Vergadering het, is daarop geregtig om ʼn Uitvoerende Adjunkpresident uit die geledere van die Vergadering aan te wys.
- Indien geen party nie of slegs een party 80 of meer setels in die Vergadering het, is die party wat die grootste getal setels het en die party wat die tweede grootste getal setels het, elk daarop geregtig om een Uitvoerende Adjunkpresident uit die geledere van die Vergadering aan te wys.
- By sy of haar aanwysing kan ʼn Uitvoerende Adjunkpresident kies om as lid van die Vergadering aan te bly of om op te hou om lid van die Vergadering te wees.
- ʼn Uitvoerende Adjunkpresident kan die bevoegdhede uitoefen en moet die werksaamhede verrig wat kragtens die Grondwet by die amp van Uitvoerende Adjunkpresident berus of wat deur die President aan daardie amp toegewys is.
- ʼn Uitvoerende Adjunkpresident beklee die amp–
- tot 30 April 1999 tensy hy of sy deur die party wat ingevolge subartikels (2) en (3) geregtig is om die aanwysing te doen, vervang of teruggeroep word; of
- totdat die persoon wat na ʼn verkiesing van die Nasionale Vergadering wat voor 30 April 1999 gehou word, as President verkies word, die amp aanvaar.
- ‘n Vakature in die amp van Uitvoerende Adjunkpresident kan gevul word deur die party wat daardie Adjunkpresident aangewys het.
- ʼn Party wat minstens 20 setels in die Nasionale Vergadering het en wat besluit het om aan die regering van nasionale eenheid deel te neem, is geregtig op die toekenning aan hom van een of meer van die Kabinetsportefeuljes ten opsigte waarvan Ministers bedoel in subartikel (1)(a) aangestel staan te word, in verhouding tot die getal setels wat die party in die Vergadering het teenoor die getal setels wat die ander deelnemende partye het.
- Kabinetsportefeuljes word aan die onderskeie deelnemende partye toegeken ooreenkomstig die volgende formule:
- ‘n Kwota setels per portefeulje word bepaal deur die totale getal setels in die Nasionale Vergadering wat die deelnemende partye gesamentlik het, te deel deur die getal portefeuljes ten opsigte waarvan Ministers bedoel in subartikel (1)(a) aangestel staan te word, plus een.
- Die resultaat, met weglating van derde en daaropvolgende desimale breuke, as daar is, is die kwota setels per portefeulje.
- Die getal portefeuljes wat aan ʼn deelnemende party toegeken moet word, word bepaal deur die totale getal setels wat daardie party in die Nasionale Vergadering het, te deel deur die kwota in paragraaf (b) bedoel.
- Die resultaat dui, behoudens paragraaf (e), die getal portefeuljes aan wat aan daardie party toegeken moet word.
- Waar die toepassing van bogenoemde formule ʼn surplus oplewer wat nie opgeneem word deur die getal portefeuljes wat aan ʼn party toegeken is nie, ding so ʼn surplus mee met ander soortgelyke surplusse wat aan ʼn ander party of partye toeval, en ʼn portefeulje of portefeuljes wat nog nie toegeken is nie, word in volgorde van die hoogste surplus aan die betrokke party of partye toegeken.
- Die President moet na oorleg met die Uitvoerende Adjunkpresidente en die leiers van die deelnemende partye –
- die spesifieke portefeuljes bepaal wat aan die onderskeie deelnemende partye toegeken moet word ooreenkomstig die getal portefeuljes wat ingevolge subartikel (9) aan hulle toegeken is;
- ten opsigte van elke sodanige portefeulje ʼn lid van die Nasionale Vergadering wat ʼn lid is van die party waaraan die portefeulje kragtens paragraaf (a) toegeken is, aanstel as die Minister wat vir daardie portefeulje verantwoordelik is;
- indien dit vir die doeleindes van die Grondwet of in die belang van goeie regering nodig word, ʼn bepaling kragtens paragraaf (a) behoudens subartikel (9) wysig;
- ʼn aanstelling kragtens paragraaf (b) beëindig–
- indien die President daartoe versoek word deur die leier van die party waarvan die betrokke Minister ʼn lid is; of
- indien dit vir die doeleindes van die Grondwet of in die belang van goeie regering nodig word; of
- wanneer nodig, behoudens paragraaf (b) ʼn vakature in die amp van Minister vul.
- Subartikel (10) moet toegepas word in die gees beliggaam in die begrip van ʼn regering van nasionale eenheid, en die President en die ander betrokke funksionarisse moet by die toepassing van daardie subartikel poog om te alle tye konsensus te bereik: Met dien verstande dat indien konsensus nie bereik kan word nie oor–
- die uitoefening van ʼn bevoegdheid in paragraaf (a), (c) of (d)(ii) van daardie subartikel bedoel, die President se besluit die deurslag gee;
- die uitoefening van ʼn bevoegdheid in paragraaf (b), (d)(i) of (e) van daardie subartikel bedoel wat ʼn persoon raak wat nie ʼn lid van die President se party is nie, die besluit van die leier van die party waarvan daardie persoon ʼn lid is, die deurslag gee; en
- die uitoefening van ʼn bevoegdheid in paragraaf (b) of (e) van daardie subartikel bedoel wat ʼn persoon raak wat ʼn lid van die President se party is, die President se besluit die deurslag gee.
- Indien ʼn bepaling van portefeuljetoekennings kragtens subartikel (10)(c) gewysig word, ontruim die betrokke Ministers hul portefeuljes, maar kan hulle, waar toepaslik, weer aangestel word in ander portefeuljes wat ingevolge die gewysigde bepaling aan hulle onderskeie partye toegeken word.
- Die President moet–
- in oorleg met die Uitvoerende Adjunkpresidente en die leiers van die deelnemende partye–
- ‘n spesifieke portefeulje bepaal vir ʼn Minister bedoel in subartikel (1)(b) indien dit nodig word na aanleiding van ʼn besluit van die President kragtens daardie subartikel;
- ten opsigte van daardie portefeulje ʼn persoon wat nie ʼn lid van die Nasionale Vergadering is nie, aanstel as die Minister wat vir daardie portefeulje verantwoordelik is; en
- indien nodig, ʼn vakature ten opsigte van daardie portefeulje vul; of
- na oorleg met die Uitvoerende Adjunkpresidente en die leiers van die deelnemende partye ʼn aanstelling kragtens paragraaf (a) beëindig indien dit vir die doeleindes van die Grondwet of in die belang van goeie regering nodig word.
- Die President of, indien die President so ʼn opdrag gee, ʼn Uitvoerende Adjunkpresident sit op vergaderings van die Kabinet voor: Met dien verstande dat die Uitvoerende Adjunkpresidente om die beurt op vergaderings van die Kabinet voorsit tensy die behoeftes van regering en die gees wat in die begrip van ʼn regering van nasionale eenheid beliggaam is, ʼn ander reëling verg.
- Die Kabinet funksioneer met inagneming van die konsensus-soekende gees wat in die begrip van ʼn regering van nasionale eenheid beliggaam is, asook van die behoefte aan doeltreffende regering.
Artikel 93 van die nuwe Grondwet word geag soos volg te lui:
93. Aanstelling van Adjunkministers
- Die President kan, na oorleg met die UitvoerendeAdjunkpresidente en die leiers van die partye wat aan die Kabinetdeelneem, adjunkministersposte instel.
- ʼn Party is geregtig op die toekenning aan hom van een of meer adjunkministersposte in dieselfde verhouding as die waarin en volgensdieselfde formule as die waarvolgens portefeuljes in die Kabinettoegeken word.
- Die bepalings van artikel 91(10) tot (12) is met die nodige veranderings ten opsigte van Adjunkministers van toepassing, en by sodanige toepassing word ʼn verwysing in daardie artikel na ʼn Minister of ʼn portefeulje uitgelê as ʼn verwysing na onderskeidelik ʼn Adjunkminister of ʼn adjunkministerspos.
- Indien ʼn persoon aangestel word as die Adjunkminister van ʼn portefeulje wat aan ʼn Minister toevertrou is–
- moet daardie Adjunkminister namens die betrokke Minister enige van die bevoegdhede uitoefen en werksaamhede verrig wat ingevolge enige wetgewing of andersins aan daardie Minister opgedra is en wat daardie Minister, behoudens die voorskrifte van die President, aan daardie Adjunkminister opdra; en
- word ʼn verwysing in enige wetgewing na daardie Minister, uitgelê ook as ʼn verwysing na die Adjunkminister handelende uit hoofde van ʼn opdrag kragtens paragraaf (a) deur die Minister namens wie daardie Adjunkminister optree.
- Wanneer ʼn Adjunkminister afwesig is of om die een of ander rede nie in staat is om enige van die bevoegdhede of werksaamhede van die amp uit te oefen of te verrig nie, kan die President ʼn ander Adjunkminister of enige ander persoon aanstel om in die plek van genoemde Adjunkminister op te tree, hetsy in die algemeen hetsy om ʼn bepaalde bevoegdheid uit te oefen of werksaamheid te verrig.
Artikel 96 van die nuwe Grondwet word geag die volgende bykomende subartikels te bevat:
- Ministers is afsonderlik teenoor die President en teenoor die Nasionale Vergadering aanspreeklik vir die administrasie van hul portefeuljes, en al die lede van die Kabinet is dienooreenkomstig gesamentlik aanspreeklik vir die verrigting van die werksaamhede van die nasionale regering en vir die beleid daarvan.
- Ministers moet hul portefeuljes administreer ooreenkomstig die beleid deur die Kabinet bepaal.
- Indien ʼn Minister versuim om die portefeulje ooreenkomstig die beleid van die Kabinet te administreer, kan die President die betrokke Minister aansê om die administrasie van die portefeulje met daardie beleid in ooreenstemming te bring.
- Indien die betrokke Minister versuim om aan ʼn aansegging van die President kragtens subartikel (5) te voldoen, kan die President die Minister van sy of haar amp onthef–
- in die geval van ʼn Minister in artikel 91(1)(a) bedoel, na oorleg met die Minister en, indien die Minister nie ʼn lid van die President se party is of nie die leier van ʼn deelnemende party is nie, ook na oorleg met die leier van daardie Minister se party; of
- in die geval van ʼn Minister in artikel 91(1)(b) bedoel, na oorleg met die Uitvoerende Adjunkpresidente en die leiers van die deelnemende partye.